PAULUS - 'N SKETS


Ons praat vandag oor Paulus, voorheen Saulus. Sommer net so 'n klompie interessanthede oor een van die merkwaardigste mense in die Nuwe Testament. 'n Ou waarin daar woeste transformasie plaasgevind het, toe Jesus hom tref. Net so kan Jesus vandag ons ook “tref” soos vir Paulus. God het vir Paulus nodig gehad vir 'n spesifieke taak, en toe hy nie self wou draai nie, toe draai die Here hom. Hy transformeer hom van -

Vervolger tot Navolger
Godsdienstige tot Christen
Van 'n fanatiese, Fariseër, wat Christene wild vervolg het, na 'n ou wat dikwels bykans doodgemartel is.

Woeste ou, maar sy bedoelings was aanvanklik goed. Hy het geglo die Christendom was 'n bedreiging vir die Judaïsme. O jitte, maar toe ontmoet hy die lewende Jesus!

Eers so 'n paar feite oor Paulus:

1. Hy was 'n toegewyde Fariseër, en het die Ou-Testamentiese geskrifte goed geken. Hy was 'n student van Gamaliël, en het goeie opleiding gehad. Hy was dus nogal 'n geleerde man.
2. Sy naam was eers Saulus en word later Paulus genoem, en nie direk na sy bekering nie. 'n Lang tyd het verloop voordat hy Paulus genoem word.
3. Hy was nooit getroud nie, en het homself onderhou deur tente te maak.
4. Ons lees nêrens dat hy ooit vir Jesus fisies ontmoet het, toe Jesus op aarde was nie.
5. Paulus was nie 'n dissipel nie. Hy was 'n apostel wat deur God aangestel was.
6. Paulus het 13 van die 27 boeke van die nuwe Testament geskryf. Bykans die helfte.
7. Ons lees nêrens in die Bybel hoe Paulus gesterf het nie, maar volgens buite Bybelse bronne is hy onthoof vir sy geloof.

'n Baie baie merkwaardige man.

In die Bybel begin Paulus (oftewel Saulus) se verhaal in Hand 7 : 8 waar hy by was met Stefanus se dood. "Die getuies het hulle klere neergesit by 'n jongman met die naam Saulus". En dan Hand 8 : 1 "Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur."

Hand 8 : 1 - 3
1 Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur. Daardie dag het daar 'n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria.
2 Godvresende mense het vir Stefanus begrawe en daar is baie oor hom gerou.
3 Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit.

Maar shame, dit het nie lank gehou nie.

Hand 9 : 1 - 5
1 Intussen het Saulus soos 'n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan
2 en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra. Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry, mans sowel as vrouens, gevange te neem en na Jerusalem toe te bring.
3 Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik 'n lig uit die hemel op hom gestraal.
4 Hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: "Saul, Saul, waarom vervolg jy My?"
5 "Wie is U, Here?" vra hy toe. "Ek is Jesus," antwoord Hy. "Dit is vir My wat jy vervolg"

Wie is U, Here? Ek is Jesus. Wow, hoe ongelooflik is die manier waarop Jesus Homself openbaar. Hy sê nie, "Ek is die Here" of "Ek is God" nie. Nee, Hy sê:  "Ek is Jesus, die een wat jy vervolg". Paulus het nog altyd in God geglo, en Hom verdiep in sy godsdiens, maar hy het vir Jesus se volgelinge vervolg. En dis Jesus wat in sy lewe ingryp. Amazing!

Nou ja, die res is (soos hulle sê), geskiedenis. Saulus word Paulus, later Hand 13 : 9 En Paulus, (dit is Saulus) begin onder die nie-Jode werk. Sy hooftaak waarvoor God hom oproep. Maar boeta, dit was nie ’n maklike taak nie!

2 Kor 11 : 21b - 31
21 Laat my dan maar tot my skande erken dat ons vir sulke dinge te swak was! Nou praat ek soos 'n dwaas: enigiets waarop iemand aanspraak maak om te roem, daarop kan ek ook roem.
22 Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Stam hulle van Abraham af? Ek ook.
23 Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar.
24 Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry,
25 drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek 'n dag en 'n nag in die oop see deurgebring.
26 Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers.
27 Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue.
28 Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes.
29 As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan.
30 As daar dan geroem moet word, sal ek roem, maar dan oor my swakhede.
31 Die God en Vader van die Here Jesus weet dat ek nie lieg nie. Aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid!

Vyf maal die 39 houe straf; dit beteken hy het 195 houe op sy lyf gekry met 'n sweep met staalpunte. Elke hou het sy liggaam oopgekloof, oor sy hele lyf. Wat waarskynlik met sulke dik, opgehewe letsels gesond geword het. Hemel man, die man moes soos 'n jigsaw puzzle gelyk het. 195 hale. Drie maal lyfstraf - by die Romeine - hulle het nie soos die Jode getel tot 39 nie ('n Joodse wet het bepaal dat 40 nie oorskry mag word nie). Die Romeine het geslaan om dood te slaan. Net waar hulle plek kry. Hy is gestenig, het hongersnood gely, is deur seerowers aangeval, het amper op 'n skip vergaan, was sonder bedekking teen die koue. Uiteindelik het hy gesterf vir sy geloof. Hoekom het hy dit gedoen? Why bother. Eers vervolg hy Christene, met die hele gesags- en regstelsel agter hom, en dan draai alles om, en sy aardse lewe verander in hel.

Hoekom op aarde doen hy dit? Hoekom so swaar kry? Paulus gee self die antwoord. 1 Kor 9 : 16 "As ek die Evangelie verkondig, is dit nie vir my 'n rede om te roem nie. Ek verkondig die Evangelie omdat ek moet, en wee my as ek dit nie doen nie".

Fil 1 : 21 "….. want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins".

Dis hoekom Paulus dit doen. Toe Jesus aan hom verskyn, toe verstaan hy. Solank hy lewe, kan hy Christus verkondig, maar as hy sterwe, is hy in die hemel, by Christus.

Paulus is reeds vir 2000 aardse jare, saam met Jesus in die hemel.

Paulus het net een lewenstaak gehad, en dit was om siele vir Christus te wen. Hoe vaar ek en jy? Hoeveel hale is op jou lyf? Wat is jou skip wat vergaan het se naam? Al koud gekry en gegesel vir die Evangelie? Of gestenig? Hoeveel keer het ek en jy honger gaan slaap vir die evangelie? Siestog, dan sê ons ons Christene begin meer en meer vervolg word!

As dit al hoe moeiliker sou raak om 'n Christen te wees, sou ons 'n Paulus-toets slaag? Ek glo nie ek sou nie.

Maar kom ons gaan saai ook die saad, dis vreeslik maklik - hier in Suid-Afrika.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)